Gebed is die uitstorting van ons hart tot God soos tot ‘n vriend.  Nie dat dit nodig is om aan God bekend te maak wat ons is nie, maar dis om ons in staat te stel om Hom aan te neem.  Gebed bring God nie tot ons af nie, maar neem ons op tot Hom.
Toe Jesus op aarde was, het Hy Sy dissipels geleer hoe om te bid. (Mattheus 6:5-13)
Hy het hulle geleer om hulle daaglikse behoeftes aan God bekend te maak, en al hulle sorge op Hom te werp. En die versekering wat Hy aan hulle gegee het dat hulle gebede sou verhoor word, is ook ‘n versekering aan ons.
Jesus het self dikwels gebid terwyl Hy op aarde onder die mense gewandel het. Jesus het Hom met ons behoeftes en swakhede vereenselwig.
Sy menswording het gebed ‘n noodsaaklikheid en ‘n voorreg gemaak. Hy het troos en blydskap gevind in gemeenskap met Sy Vader. En as die Verlosser van die mens, die Seun van God, behoefte gehad het aan gebed, hoeveel te meer behoort swakke, sondige sterwelinge hulle behoefte aan vurige, aanhoudende gebed te besef.
God is bereid en gewillig om die opregte gebed van die nederigste van Sy kinders te verhoor, en tog is daar so ‘n traagheid van ons kant om ons behoeftes aan Hom bekend te maak.
Sonder gedurige gebed en waaksaamheid, loop ons gevaar om agterlosig te word en van die regte pad af te dwaal. Die teenstander is gedurig daarop uit om die weg tot die genadetroon te versper sodat ons nie deur vurige gebed en geloof genade en krag kan ontvang om versoeking te weerstaan nie.

Maak u behoeftes, u vreugde, u droefheid, u sorge en u vrees aan God bekend. U kan Hom  nie daarmee belas of vermoei nie. Hy wat die hare van u hoof tel, is nie onverskillig omtrent die behoeftes van Sy kinders nie.

Tagged:

Leave a Reply