Lasarus en die Hel (Lukas 16:1931)

Die standpunt word dikwels ingeneem dat Jesus se lering in hierdie tekste letterlik opgeneem moet word. Die taalgebruik en die agtergrond daarvan is egter hoogs figuurlik en die verhaal moet as ’n gelykenis beskou word. Feitlik elke toneel in die verhaal weerspreek die leringe van die Skrif en die gelykenis is derhalwe bedoel om geestelike waarhede oor te dra aan die leiers van Israel. Die Joodse volk was deur God begunstig as die bewaarders van Sy waarheid. Hulle moes dien as ‘n lig aan die heidene, en moes die heiden-nasies lei na die enigste Bron van lewende waters. Om hierdie rede is hulle geplaas op die kruispad tussen die groot nasies en die handelsroetes van daardie tyd. In plaas daarvan dat hulle hul missie vervul, het hulle onverdraagsaam en selfgesentreerd geword en aanspraak gemaak op redding alleenlik vir hulself. Terwyl hulle trots op hul eksklusiwiteit was, het hulle nietemin van die heidense leringe rakende die hiernamaals aangeneem, maar altyd met die voorbehoud dat hul status hulle kwalifiseer vir die hemel. Jesus het die huigelary van hierdie sienings tereggewys, en in die verhaal van die ryk man en Lasarus breek Hy weg van die tradisie van hierdie wêreldbeskouing.

In die gelykenis verteenwoordig die ryk man die Joodse volk wat ryk was aan geestelike waarhede en die arm man verteenwoordig die heidene. Die ryk man was “beklee” met kennis van die Koning van die konings (purper is die koninklike kleur) (Lukas 16:19), en met die vermoë om geregtigheid te bekom (wit linne – Openbaring 19:8). Die heiden was oortrek met swere wat sonde verteenwoordig (Jesaja 1:6), maar geen oplossing is hom gebied vir sy toestand nie. In werklikheid was selfs die krummels wat van die geestelike tafel van die ryk man afgeval het, hom verbied. Jesus het weggebreek van die tradisie van hierdie Joodse denke in sy omgang met die Kananése vrou (Matthéüs 15:21-28) wat ook gevra het vir die krummels van die tafel van (die) base.” In hierdie ontmoeting word honde ook gemeld en dit dien as ’n verdere tipe van die heidene of diegene wie nie deur God begunstig word nie. Selfs Jesus se dissipels het Hom versoek om die vrou weg te stuur en daardeur het hulle getoon in welke mate die leringe van die Skrifgeleerdes hulle oordeel beïnvloed het.

Soos die gelykenis ontvou, gooi Jesus die siening van die Joodse leiers omver deur die ryk man in die hel” te plaas en die arm man in die “boesem van Abraham.” Die hele hoofstuk 23 van Matthéüs betreur die bekrompe sienings van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs en voorsien die antwoorde waarom die toestand van die ryk man en Lasarus omgeruil skyn te wees. Jesus laat die les by Sy dissipels inslaan dat die status van ’n persoon nie ’n waarborg van verlossing is nie. Die pad word dus vir die dissipels voorberei om van die tradisies weg te breek en die evangelie kragtig aan die Jode sowel as die heidene te preek. Selfsug het aan die wortel van die Joodse oortuigings gelê, maar God vereis dat eiewaan afgelê moet word en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Die vertroue op herkoms is die volgende punt wat in die gelykenis aangespreek word. Die Jode het daarop aanspraak gemaak dat Abraham hul vader is (Johannes 8:39), maar in die gelykenis kon “Vader Abraham“ die ryk man nie help nie. Die Nuwe Testament verklaar dat diegene wie in Jesus is, Abraham se saad is (Galásiërs 3:29) en Christus het gekom om die gewondes en gebroke van hart te genees. Slegs diegene wat hulle geestelike armoedigheid en hul afhanklikheid van Christus besef, kan Christus se seëninge deelagtig word. In die Saligsprekinge (Matthéüs 5:1-12) is dit die armes van gees, dié wat treur, wat sagmoedig is, wat ’n honger en dors na geregtigheid het, wat gevul kan word en genade kan ontvang. Met ander woorde, ’n mens moet jou eie geestelike armoede erken, berou hê oor jou sonde en ’n verandering van karakter ondergaan met ’n verlange na die geregtigheid van Christus, om gevul te word.

Leringe wat op tradisie gebou is, word volgende deur Jesus aangespreek. In Matthéüs 15:1-9, waarsku Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs dat hulle die woord van God van nul en gener waarde maak deur hul tradisies. In die gelykenis van die ryk man en Lasarus is daar geen geleentheid vir ’n tweede kans na die dood nie. ’n Groot kloof word gevestig, en die ryk man se versoek dat sy broers gewaarsku moet word, word afgekeur. Die rede wat gegee is, is dat hulle Moses en die profete, of die Woord van God tot hul beskikking het. Indien ons nie die leringe van die Skrif aanvaar nie, dan sal selfs ’n boodskap vanuit die doderyk nutteloos vir ons redding wees.

Elke toneel, soos dit in die gelykenis ontvou, dra ’n geestelike waarheid oor in teenstelling met die geestesingesteldheid van die Joodse leiers. Die hedendaagse neiging om die gelykenis as letterlik te beskou ten einde die doktrine van die hel te ondersteun, doen afbreuk aan die doel van die verhaal en maak die pragtige boodskap daarin vervat tot niet.

Volgens die Bybel is die dood dus ’n toestand van onbewustelike slaap. Dit beteken egter nie dat daar nie wel ’n rekord in die hemel bestaan van die slapende heiliges nie. God het ’n volmaakte rekord van ons wese, ons eie natuur, en wanneer Hy die slapende heiliges oproep, sal hulle opstaan met onverganklike liggame en met die karakters wat hulle onder leiding van Sy heiligmakende krag ontwikkel het. Die Bybelse rekord van die dood is ver van verontrustend; inteendeel, dit is gerusstellend. Ons voorvaders hou nie ons elke fout dop nie en hulle voel nie die pyn van ons verkeerde keuses nie. Hulle is salig onbewus van die ontplooiing van gebeure terwyl hulle slaap tot die opstandingsdag. As ons deur hierdie Bybelse waarhede versterk word, dan sal die verleidende mag van valse wonderwerke en spookgestaltes geen houvas op ons hê nie en ons sal dan beter voorbereid wees om in die laaste dae staande te bly.

Leave a Reply