Die Leerstelling van die Hel en die Vagevuur

Die leerstellings van die hel en die vagevuur is van paganistiese afkoms en is deur die Rooms-Katolieke kerkvaders in die Christelike geloof ingevoer. Kardinaal Gibbons skryf aangaande die vagevuur:

Daar bestaan in die volgende lewe n staat van tydelike straf toebedeel aan diegene wat nie God se geregtigheid bevredig het vir sondes wat reeds vergewe is nie. Die bestaan van die vagevuur impliseer natuurlik ook die gepaardgaande dogma, naamlik om vir die dode te bid. 3

Hel word in die algemeen gedefinieer as ’n plek of toestand waar diegene wat in vyandskap tot God gesterf het, ewige pyniging ondergaan, terwyl die siele van die regverdiges met hul dood hemel toe gaan.

Die Hebreeuse woord “sheol” en die Griekse ”Hades” word beide as “hel” vertaal en verwys na die wêreld van die dode. Die Griekse woord “geenna” dui op ’n hel van straf deur branding. Die Bybelse terminologie word dikwels in ’n metaforiese sin gebruik en verwarring kan ontstaan rakende of ’n term verwys na ’n plek of ‘n toestand waarin die dode hulself bevind.

Die Griekse woord geenna” word 12 keer in die Nuwe Testament gebruik en is afgelei van die Hebreeuse woord Ge Hinnom” die “Vallei van Hinnom” waar heidense rituele van offerandes en die verbranding van kinders vir Moloch beoefen was. Jeremia noem hierdie vallei “Moorddal.” Die Vallei van Hinnom of Gehenna het ’n plek geword vir die verbranding van vullis en met die ontwikkeling van die doktrine van ’n brandende hel waar die bose gestraf word, het die vallei gedien as ’n tipe van die vure van die laaste dae.

In die Bergpredikasie verwys Jesus drie maal na geena.” Hy waarsku die Fariseërs van die verdoemenis of geena.” Die aard en die uitwerking van die vuur word in die Bybel beskryf as die “onuitbluslike vuur” (Markus 9:43-48; Lukas 3:17) of die “ewige vuur” (Matthéüs 25:41). Hierdie vuur reinig die aarde (2 Petrus 3:10-12; Lukas 3:17) na die tweede opstanding (Openbaring 20:5).

Die woord “ewige” (“aiónios”) word gebruik om die lot van die regverdiges sowel as die bose te beskryf. As die loon van die sonde die dood is (Romeine 6:23), dan is die straf van die goddeloses die ewige dood. Die finale uitwerking van die vuur is ewigdurend, maar nie die vuur self nie. Hierdie beginsel word duidelik gedemonstreer in die gebruik van die konsep “ewigdurend” in die Skrif. Jeremia profeteer dat God ’n vuur in Jerusalem sal aansteek wat “nie uitgeblus sal word nie.” Toe Nebukadnésar Jerusalem vernietig het, was die stad tot op die grond toe afgebrand en die vuur kon nie geblus word nie totdat dit die stad vernietig het; tog brand daardie vuur nie meer vandag nie. Soortgelyk lees ons in Judas 1:7:

soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Daar word ook na die kwessie verwys in 2 Petrus 2:5-6. Die vure brand lankal nie meer nie, maar die gevolge van die vure is ewigdurend.

Die leerstelling dat die goddelose dode vir ewig en ewig gepynig word, is afstootlik en teenstrydig met die karakter van God wie oneindige liefde vir die gevalle mensdom gedemonstreer het met die offer van Sy Seun. Paganistiese sienings het die Joodse geleerdes beïnvloed in hul denke rakende die hiernamaals. Josephus het geglo dat die dode óf hemel óf hel toe gaan terwyl hulle die opstanding afwag. Die regverdiges is ’n plek aangewys wat die “boesem van Abraham” genoem is terwyl die goddeloses deur ’n diep afgrond van hulle geskei is en ingeperk was tot ’n plek waar hulle die vure van die hel kon hoor en sien. Hierdie sienings is teenstrydig met die duidelike leringe van die Skrif dat “die dooies weet glad niks nie.” (Prediker 9:5)

Net so hang hedendaagse Christelike geleerdes die doktrine aan van ‘n onmiddellike hiernamaals óf in die hemel óf in die hel, en as bewys daarvoor haal hulle ‘n aantal Bybeltekste aan, in besonder Jesus se belofte aan die dief aan die kruis en die gelykenis van die ryk man en Lasarus, wat met hulle dood onderskeidelik na die hel en “Abraham se boesem” gegaan het. Hierdie tekste moet verduidelik word indien hul leringe in ooreenstemming moet wees met wat die res van die Bybel sê rakend die toestand van die dode.

Nêrens in die Skrif is daar ’n doktrinale lering van ’n onmiddellike hiernamaals nie. Die Lasarus wat Jesus uit die dood opgewek het, het beslis nie hemel toe of na “Abraham se boesem” gegaan met sy afsterwe nie. Die Nuwe Testamentiese lering hieromtrent is duidelik. Tydens Pinkster sê Petrus:

Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe… Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie. Handelinge 2:29, 34. (Klem bygevoeg.)

Leave a Reply