DIE MERK VAN DIE DIER

Die boek van Openbaring beskryf die finale konflik tussen Christus en Satan en hierdie konflik is ’n konflik oor gesag. Ons sien in Openbaring 12 dat die draak oorlog voer teen diegene wat die gebooie van God onderhou en die getuienis van Jesus Christus het (Openbaring 12:17). Daar is dus twee kwessies wat die vyand in besonder sal teiken in die finale konflik, naamlik die Gebooie van God en die Getuienis van Jesus Christus. Ons sal die getuienis later behandel (sien “God se Leidende Gawe”) maar die wet van God is die kwessie wat die gesag en regering van God raak. In Openbaring 11:19 lees ons:

En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael. Openbaring 11:19.

Die profeet Johannes vestig ons aandag daarop dat die kwessies in die finale groot stryd sal draai om die wet van God. Die vyand gaan God se gesag in twyfel trek en gaan probeer om sy eie gesagsteken op te rig. Openbaring 13 identifiseer die magte wat betrokke sal wees by die finale uitdaging tot God se gesag en ons het gesien dat Pouslike Rome en die Verenigde State van Amerika die sentrale rol in hierdie konflik sal speel. Dit is noemenswaardig dat Pouslike Rome met die mond van ‘n leeu gepraat het wat, volgens Daniël se profesie, Babilon verteenwoordig het. Met ander woorde, daar sal ‘n Babiloniese komponent in die pousdom wees, veral met betrekking tot sy uitsprake.

Die geskiedenis leer ons dat tydens die val van Babilon het haar priesterdom na Pérgamus in Klein Asië gevlug en daar is die Babiloniese godsdiens met al sy rites en rituele sowel as sy hiërargie in stand gehou. Die laaste biskop-koning van Pérgamus, Koning Attalus, het sy titel (Pontifex Maximus), asook die struktuur van die Babiloniese priesterdom en hulle priesterlike gewaad aan Rome bemaak.1 Aanvanklik het slegs die heidense hoëpriester van Rome hierdie titel gebruik, maar toe heidense Rome val, is dié titel na die Pous oorgedra. En die heel eerste ding wat jou opval as jy St. Peter’s binnekom, is die Babiloniese titel, Pontifex Maximus, en hierdie titel is ook te sien by die ingang tot die Vatikaan en op elke pouslike standbeeld. Dit is interessant dat die standbeeld van Pous Gregory XIII hierdie titel aandui, maar dit wys hom ook bo-op die draak, en volgens Openbaring 13 is dit die draak wat mag gee aan die dier wat uit die see opkom, naamlik die pousdom. In ’n spesiale sin is die Roomse Biskop dus die segsman van die draak en dit is deur middel van die pousdom, die erfgenaam van die Romeinse Ryk, dat die draak sy gesag uitoefen.

Nadat Keiser Konstantyn Rome in 339 n.C. verlaat het om Konstantinopel, die huidige Istanbul, sy nuwe hoofstad te maak, het heidense Rome haar mag en troon na Pouslike Rome oorgedra. Kardinaal Henry Edward Manning van Engeland sê dat die verlating van Rome die “bevryding” van die Pouse was. Met die verloop van tyd, sê hy, “het die Pouse hulself alleen bevind; die enigste bron van orde, vrede, wet en veiligheidin westelike Rome.2

Die Roomse biskop maak daarop aanspraak dat hy spesiale magte rakende beide morele en siviele kwessies het, en dat hy selfs gesag kan uitoefen oor die voorskrifte van God. Die Romeinse Pouslike dekrete verklaar:

Hy kan uitsprake lewer en vonnisse oplê in teenstelling met die regte van nasies, die wet van God en die mens… Hy kan homself bevry van die opdragte van die apostels, aangesien hy hul meerdere is, en van die reëls van die Ou Testament.” Hy verklaar verder dat “die Pous die mag het om tye te verander, om wette af te skaf en om van alle dinge af te sien, selfs die voorskrifte van Christus.3

’n Verdere verklaring om hierdie punt te staaf, is die volgende:

Die wil van die Pous staan vir redelikheid. Hy kan wette ophef; hy kan dit wat verkeerd is, reg maak deur wette te korrigeer en te verander. 4

As, soos ons gesien het, die gebooie van God en derhalwe die regering van God die teiken van Satan se woede is, dan is dit ook uiteraard so dat hierdie sogenaamde magte van die pousdom in die finale konflik tussen goed en kwaad aangewend sal word en sal uitloop op die afdwinging van die merk van die dier op alle mense op aarde. Die waarskuwings aangaande die merk van die dier is van die mees ernstige waarskuwings vervat in die Bybel en dit is noodsaaklik dat dit sorgvuldig uitgelê word ten einde die betekenis te ontrafel.

En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Openbaring 13:16-17.

En n derde engel het hulle gevolg en met n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus niehulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang. Openbaring 14:9-11.

Die merkteken van die dier dra daarmee saam die grootste straf wat God ooit oor die mens uitgespreek het. Dit is die straf van ewige verwydering van God se teenwoordigheid. Die merkteken van die dier moet dus ’n kwessie van kardinale belang wees en aangesien God die hart en karakter van die mens deursoek, moet die kwessie verband hou met die mens se verhouding met God. Dit is verstommend hoeveel teorieë daar is oor die merkteken van die dier, wat wissel van rekenaar-gedrewe identifikasies tot rekenaarskyfies wat ingeplant word, nie een waarvan enigsins te doen het met die mens se karakter, persoonlike verhouding met God of onderwerping aan die heerskappy van God nie. Die dier is in sommige van die interpretasies van hierdie profesieë vergelyk met ’n bose individu of ’n groot rekenaar iewers wat al die inligting van die mensdom bevat. Al hierdie kwessies mag nuttig wees om beheer oor toegang tot hulpbronne toe te pas en om die mens se bewegings dop te hou, maar dit kan nie die merkteken van die dier wees nie, want die dier verwys na die pousdom soos ons uit ons studie van die twee diere van Openbaring 13 vasgestel het. Indien ons die merkteken van die dier gaan identifiseer, dan moet ons dit doen binne die raamwerk van die groot stryd en hoe dit die verlossingsplan beïnvloed.  Dit is deur sonde (die verbreking van God se wet, 1 Johannes 3:4) dat daar skeiding tussen God en die mens gekom het, en hierdie rebellie teen Sy heerskappy het die gevolge meegebring wat die mensdom ervaar.

maar julle ongeregtighede het n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. Jesaja 59:2.

Want die loon van die sonde is die dood… Romeine 6:23.

Geregtigheid vereis dat die straf vir die sonde betaal moet word en Christus het hierdie vereistes vervul deur die prys self te betaal. Deur middel van hierdie offerande kon daar meer oorvloedige genade wees en die gebroke verhouding tussen God en die mens kon herstel word. Die vernieude hart is een wat –

die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. Openbaring 14:12.

Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle n God wees, en hulle sal vir My n volk wees. Hebreërs 8:10.

’n Herstelde verhouding veronderstel ’n lewe wat weereens in volkome eenstemmigheid met God se verordeninge is. “Hy wat sê: Ek ken Hom—en sy gebooie nie bewaar nie—is n leuenaar en in hom is die waarheid nie. 1 Johannes 2:4. As skeiding die gevolg is van sonde, dan moet die merkteken van die dier ook verwys na sonde, aangesien dit die enigste oorsaak is van die skeiding. As sonde die oortreding van God se wet is, dan, soos in die begin, moet die finale oorsaak vir ewige skeiding gesoek word in die verbreking van God se wet.

Die dier en sy getal is in “Twee Diere Raak Bevriend” geïdentifiseer. Openbaring 13 leer dat die merk deur die beeld van die dier afgedwing sal word. ’n Beeld is iets wat die eienskappe van die oorspronklike het, soos ’n spieëlbeeld. Die eerste dier van Openbaring 13 (die Rooms-Katolieke sisteem) was ’n mag wat die staatsorgane aangewend het ten einde haar leerstellings af te dwing, selfs al was hierdie leerstellings in stryd met God se Woord. Volgens Openbaring 13 word die beeld in die tweede dier ontwikkel, wat geïdentifiseer is as die Verenigde State van Amerika. Die Verenigde State van Amerika is die supermoondheid in die wêreld en sal insgelyks die mag van die staat aanwend om godsdienstige leerstellings af te dwing, al is dit in stryd met die Skrif. Indien die Verenigde State van Amerika al die gesag wat die pousdom het, sou uitoefen, en almal sou dwing om die pousdom te aanbid, dan volg dit dat Amerika sal word soos Rome was gedurende die 1260-jaar periode toe sy haar leerstellings by wyse van die wet en vervolging afgedwing het. Die Verenigde State van Amerika sal egter pouslike wetgewing afkondig en die toepassing daarvan wêreldwyd afdwing. Deur soos Rome te word, deur die vorming van ’n band tussen kerk en staat en deur die mag van die staat te gebruik om sulke wette af te dwing, sal die Verenigde State van Amerika ’n beeld van die dier maak, ’n stelsel wat soos die oorspronklike is, of ’n spieëlbeeld van die oorspronklike. Hierdie godsdienstig-politieke reus sal dan die merk van die eerste dier afdwing.

Die wyse waarop die merk afgedwing sal word, is, volgens die Skrif, deur eerstens ekonomiese sanksies toe te pas op enige organisasie of individu wat onwillig is om die merk te aanvaar.

sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het… en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig. Openbaring 13:17-18.

’n Merk is iets wat een ding van ’n ander onderskei. ‘n Merk van ’n godsdienstige mag sal dan een of ander uitsonderlike geloofsoortuiging wees wat dit van die ander onderskei. Die beste manier om daardie merk van die Rooms-Katolieke Kerk vas te stel is om haar leringe direk te raadpleeg. Kardinaal Gibbons verklaar dat Sondagsonderhouding die merk is van die Rooms-Katolieke gesag.

Natuurlik sê die Katolieke Kerk dat die verandering haar optrede was. Dit kon nie anders wees nie, aangesien niemand in daardie tyd sou gedroom het om enigiets te doen rakende geestelike, kerklike of godsdienstige sake sonder haar nie. Hierdie handeling is die merk van haar kerklike gesag en mag in godsdienstige kwessies. (Klem bygevoeg.)

Die son was die vooraanstaande god in die heidendom… Die son het tans in Persië en ander lande aanbidders… Daar is inderwaarheid iets vorstelik, koninklik omtrent die son wat dit n gepaste embleem van Jesus maak, die Son van Geregtigheid. Gevolglik wil dit voorkom asof die kerk in daardie lande gesê het: “Behou daardie ou, heidense naam. Dit sal toegewyd, geseënd bly.” En sodoende het die heidense Sondag, opgedra aan Balder, die Christen Sondag geword, geheilig aan Jesus. 6

Sondagsaanbidding het geen Skriftelike gesag nie en berus uitsluitlike op tradisie. Protestante het altyd vereis dat die Bybel en slegs die Bybel die standaard in hul godsdienstige oortuigings moet wees. Om hierdie uitdagings die hoof te bied het die Rooms-Katolieke Kerk die Konsilie van Trent belê in 1545 en verklaar dat tradisie bo die Skrif verhewe is. Die Aartsbiskop van Reggio het in ’n toespraak aangaande hierdie kwessie volgehou dat bewys vir tradisie wat Skriftelike gesag vooruitgaan, gevind kan word in die verandering van die Sabbat na Sondag.

Die kerk het Sabbat verander na Sondag, nie deur n opdrag van Christus nie, maar deur haar eie gesag. 7

Tradisie en nie die Skrif nie is die rots waarop die Kerk van Christus gebou is. 8

Protestante wat Sondag as die aanbiddingsdag onderhou, eer die merk van Rooms-Katolisisme.  Rooms-Katolieke verklaar:

Die Christen Sabbat is daarom tot hierdie dag toe die erkende nakroos van die Rooms-Katolieke Kerk, as die eggenote van die Heilige Gees, sonder enige woord van veroordeling van die Protestantse wêreld. 9

Sondag is ons merk van gesag… die kerk is verhewe bo die Bybel en hierdie oorplasing van Sabbatsonderhouding is bewys daarvan. 10

Vraag: Het jy enige ander manier om te bewys dat die kerk die mag het om voorgeskrewe feestye in te stel?

Antwoord: As sy nie daardie mag gehad het nie, sou sy nie kon doen dít waarmee al die moderne godsdienstiges met haar eens is nie, sy kon nie die onderhouding van Sondag, die eerste dag van die week, in die plek stel van die onderhouding van Saterdag, die sewende dag nie, n verandering waarvoor daar geen Skrifbewys is nie. 11

Jy sal vir my sê dat Saterdag die Joodse Sabbat was, maar dat die Christen Sabbat verander is na Sondag. Verander? Maar deur wie? Wie het die mag om n uitdruklike gebod van Almagtige God te verander? Nadat God gespreek en gesê het, “Julle sal die sewende dag heilig hou,“ wie sal dit durf waag om te sê : Nee, julle mag werk en enige wêreldse bedrywighede op die sewende dag uitvoer, maar julle sal die eerste dag in die plek daarvan heilig hou? Hierdie is ‘n uiters belangrike vraag wat ek nie weet hoe jy dit kan antwoord nie. Jy is ‘n Protestant en julle bely dat julle net die Bybel en die Bybel alleen navolg; en tog, in so n belangrike kwessie as die onderhouding van een dag van die sewe as n heilige dag, gaan julle die duidelike lering van die Bybel teen deur n ander dag in die plek te stel van wat Hy julle beveel het. Die gebod om die sewende dag heilig te hou is een van die Tien Gebooie;  julle glo dat die ander nege steeds bindend is; wie het julle die reg gegee om met die vierde te peuter? As julle beginselvas wou wees met betrekking tot jul eie beginsels, as julle werklik die Bybel en slegs die Bybel gevolg het, sou julle een of ander gedeelte van die Nuwe Testament moes toon waar hierdie vierde gebod uitdruklik gewysig is. 12

Waarom is die Sabbatsgebod so relevant aan die wet van God en waarom is die onderhouding van een besondere dag so belangrik?

Die antwoord lê in die bewoording van die gebod wat die seël van God bevat.

Die Sabbatsgebod is nie slegs die hart van die Tien Gebooie nie, maar dit is die seël van die gebooie. Verwyder dit en die gebooie het geen gesag of amptelike seël nie.

’n Seël bevat drie elemente:

  • die naam van die outeur van die wet,
  • sy ampstitel, en
  • die naam van die gebied waaroor hy mag uitoefen.

Slegs die vierde gebod bevat hierdie drie elemente naamlik:

  • YHWH God (die Naam van God)
  • Skepper (sy ampstitel of Sy posbenaming)
  • Die hemel en die aarde (Sy magsgebied)

Verwyder hierdie gebod en enige navolger van enige geloof kan die ander nege onderskryf. ’n Verandering aan die seël beteken ’n verandering van heerskappy, dit impliseer ’n nuwe mag met die nodige gesag om wette in te stel. Gehoorsaamheid aan nuwe wette, bekragtig deur die seël van gesag, behels onderdanigheid aan daardie gesag. Dit is nog altyd Satan se doelwit – om sy gesag bo dié van God se troon te stel. Deur aanspraak te maak op gesag as wetgewer, en deur die afdwinging van sy seël in stryd met die seël van God, verskuif Satan die magsposisie vanaf God af na hom. Gehoorsaamheid aan sy seël (of merk) van gesag beteken onderdanigheid aan sy regering in stryd met God se gesag. Dit is die uiterste afvalligheid. Wanneer die mensdom hom aan hierdie vals seël onderwerp en dit openlik bely deur die uitvaardiging van wette vir die onderhouding van Sondag, dan het die mensdom hom ten volle aan die regering van Satan onderwerp. Totdat sodanige wette uitgevaardig word, is die vryheid om te kies steeds tot die mens se beskikking. Die merk van die dier lei slegs tot algehele verwydering van God wanneer die mens gedwing word om te besluit aan wie hy of sy kies om gehoorsaam te wees. As hulle God verkies, dan is die straf vervolging. As hulle besluit om die menslike gesag na te volg, dan is die straf verwydering van God. Almal sal hierdie keuse moet maak.

Regdeur die Skrif word die Sabbat van God met die grootste agting behandel.

En heilig my sabbatte; en hulle sal n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. Eségiël 20:20.

Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Matthéüs 5:18.

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?  Matthéüs 15:3.

Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Matthéüs 15:9.

Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word. Matthéüs 15:13.

Kies julle wie julle wil volg. Josua 24:15.

Die Kerk van Rome verklaar dat Sondag haar merk van gesag is. Verder verklaar sy dat dit haar reg is om wette met betrekking tot morele kwessies te maak en dat regerings haar verordeninge moet onderskryf. Dis nie slegs ’n reg wat sy haarself gedurende die Middeleeue toegeëien het nie, maar dis ’n reg wat sy haar selfs vandag toe-eien. Die amptelike Catechism of the Catholic Church (Kategismus van die Katolieke Kerk) wat deur Pous Johannes Paulus II goedgekeur is, het die volgende aangaande hierdie kwessie te sê:

Die Kerk, die pilaar en skans van die waarheid, het van Christus en die apostels die opdrag ontvang om die reddende evangelie te verkondig… Aan die Kerk behoort die reg om altyd en orals morele beginsels af te kondig, insluitende dié rakende die sosiale orde en om oordeel te vel aangaande enige sake rakende die mensdom in dié mate dat dit vereis word deur die fundamentele regte van die mens of die redding van sy siel. 13

Volgens hierdie Kategimus, word morele aangeleenthede deur die Tien Gebooie voorgeskryf, maar nie die Tien Gebooie soos in die Bybel opgeteken nie, maar die Tien Gebooie soos gedefinieer deur Augustinus, die Katolieke kerkvader.

Sedert St. Augustinus, het die Tien Gebooie n dominante plek in die kategismus van doopkandidate en die gelowiges ingeneem… Die kategismusse van die Kerk het dikwels Christelike moraliteit vertolk deur die orde van die Tien Gebooie te volg. Die indeling en die rangskikking van die Tien Gebooie het gevarieer met die verloop van die geskiedenis. Die huidige kategismus volg die indeling van die Gebooie soos deur Augustinus vasgestel wat tradisioneel in die Rooms-Katolieke Kerk geword het. 14

Wat ’n verstommende belydenis! Nie die Tien Gebooie soos dit in die Bybel voorkom nie, maar soos hulle deur Augustinus vasgestel is, vorm die basis vir Katolieke moraliteit. Aangesien Sondag ook die merk van die Rooms-Katolieke Kerk se gesag is, volg dit dat hierdie merk lynreg in stryd met die verklaarde wil van God staan en dat enige kompromie met betrekking tot hierdie saak nie moontlik is nie. Sondagsaanbidding kan slegs op gronde van Katolieke beginsels verdedig word. Die Katolieke Kerk het die volgende oor die kwessie te sê:

Sondag is n Katolieke instelling en die aansprake om dit te onderhou, kan slegs op grond van Katolieke beginsels verdedig word… Van die begin tot aan die einde van die Skrif is daar nie ’n enkele teksvers wat die oorplasing van weeklikse openbare aanbidding van die laaste dag van die week na die eerste regverdig nie. 15

Die Christelike Sabbat is derhalwe tot hierdie dag toe die erkende nakroos van die Katolieke Kerk, as eggenote van die Heilige Gees, sonder n woord van teregwysing van die Protestantse wêreld. 16

As Protestante die Bybel wil volg, behoort hulle God op die Sabbatdag te aanbid. Deur die Sondag te onderhou, volg hulle ‘n wet van die Katolieke Kerk. 17

Protestantisme, deur hul verwerping van die Rooms-Katolieke Kerk, het geen goeie redes vir hul Sondag-teorie nie en behoort hulle ooreenkomstig logika Saterdag as die Sabbat te onderhou. 18

Rede en gesonde verstand vereis die aanvaarding van een van die twee alternatiewe: óf Protestantisme en die onderhouding van Saterdag, óf Katolisisme en die onderhouding van Sondag. Kompromie is onmoontlik. 19

’n Mens sou dink dat sommige van hierdie stellings verouderd is en dat Rome nie die kwessie in ons tyd met soveel ywer sou najaag nie. Maar indien die afdwinging van die merk van die dier egter ’n realiteit moet word, dan kan ’n mens verwag dat hierdie kontroversie in intensiteit sal toeneem en dat daar die aanvraag sal wees vir wetgewing wat Sondagsaanbidding sal afdwing. Dit is presies wat Pous Johannes Paulus II gedoen het kort voor die aanvang van die nuwe millennium. Die Kerk het ook streng wette aangaande gehoorsaamheid in haar kanon ingevoer wat algehele gehoorsaamheid aan die Pous voorskryf rakende sake van doktrine. Eienaardig genoeg, woorde soos ketter en straf wat in die Pouslike omsendbriewe gebruik word, herinner ’n mens aan die vervolgings in die tyd van die Inkwisisie. In sy Pouslike omsendbrief ten opsigte van Sondagsheiligheid, vra die Pous herhaaldelik dat Sondagswetgewing deurgevoer moet word om dit af te dwing.

Die rusdag 64 …Slegs in die vierde eeu het die siviele wet van die Romeinse Ryk die weeklikse herhaling erken en bepaal dat die regters, die mense in die stede en verskillende besighede nie op die dag van die sonmag werk nie. (107)  Christene was verheug om te merk dat die struikelblokke wat soms die onderhouding van die Dag van die HERE n heldedaad gemaak het, uit die weg geruim is. Hulle kon hulself nou toewy aan gemeenskaplike gebed sonder enige hindernis. (108)

Dit sou derhalwe verkeerd wees om hierdie wetgewing oor die ritme van die week as slegs n historiese omstandigheid te sien met geen spesiale betekenis vir die Kerk, en wat sy eenvoudig ter syde kon stel. Selfs na die val van die Ryk het die konsilies nie opgehou om aan te dring op die reëlings rakende rus op Sondae nie…

Wanneer sy deur die loop van die eeue wette met betrekking tot Sondag gemaak het, (109) het die Kerk bo alles die werk van die knegte en arbeiders in gedagte gehad, beslis nie omdat hierdie werk as van minder belang beskou was in vergelyking met die geestelike vereistes van Sondagsonderhouding nie, maar eerder omdat dit meer regulering vereis het om die las ligter te maak en om almal sodoende n geleentheid te gun om die Dag van die HERE heilig te hou. Rakende hierdie saak het my voorganger, Pous Leo XIII, in sy omsendbrief Rerum Novarum gepraat van Sondagsrus as n werker se reg wat deur die Staat gewaarborg moet word… Daarom ook in die spesifieke omstandighede van ons tyd sal Christene natuurlik streef om te verseker dat siviele wette hul plig om Sondag heilig te hou, respekteer. 20 (Klem bygevoeg.)

Hierdie pouslike omsendbrief het daartoe aanleiding gegee dat die Sunday Times van Londen geskryf het: Pous begin met kruistog om Sondag te red, 5 Julie 1998.

Net ’n paar dae nadat die voorskrif op 18 Mei 1998 uitgereik is rakende die onderhouding van Sondag, het die Vatikaan haar apostoliese sendbrief AD TUENDAM FIDEM uitgereik, waardeur sekere norme in die Kode van Kerklike Wet en in die Kode van die Kerkreëls van die Oostelike Kerke ingesluit word, wat sommige sterk uitlatings maak met betrekking tot onderdanigheid aan die pous in verband met doktrinale kwessies.

Can 1436 § 1. Wie ookal enige waarheid wat met goddelike en algemeen geloof geglo moet word, ontken of in twyfel trek, of die Christelike geloof in sy geheel verwerp of misken en nie tot besinning kom nadat hy wettiglik gewaarsku is nie, moet as n ketter of afvallige deur middel van ekskommunikasie gestraf word; n lid van die kerklike ampsdraers kan aan ander strawwe onderwerp word wat nie afsetting uitsluit nie. 

  • 2. Buiten sulke gevalle, wie ookal n leerstelling wat duidelik deur die Pous of die Kollegium van Biskoppe wat hul leergesag uitoefen, voorgestel is om onderhou te word, verwerp of n ander leerstelling aanvaar wat deur hulle as onjuis verwerp is en nie tot besinning kom nadat hy of sy wettiglik gewaarsku is nie, moet met n toepaslike sanksie gestraf word.
  1. 5. Ons beveel dat alles wat deur Ons in hierdie Apostoliese Brief afgekondig is motu proprio gegrond en geldig is en ons beveel dat dit ingesluit word in die algemene wet van die Rooms-Katolieke Kerk, dit is in die Kode van die Kanonieke (Kerklike) Wet en in die Kode van die Kerkreëls van die Oostelike Kerke onderskeidelik, presies soos hierbo uiteengesit ten spyte daarvan dat dit strydig met enigiets mag wees. Geteken te Rome, St. Peters, 18 Mei 1998 in die twintigste jaar van Ons Pontifikaat. 21 (Klem bygevoeg.)

Wie ookal enige waarheid wat met goddelike en algemene geloof geglo moet word, ontken of in twyfel trek, sal as ketter gebrandmerk word? Strafbaar met ’n gepaste vonnis? Dit klink inderdaad onheilspellend en herinner ’n mens aan die tyd toe ketters ’n gepaste vonnis  vir hul oortreding opgelê is. Die vonnis was natuurlik die dood. Die Bybel sê dat die geskiedenis hom sal herhaal en net soos weiering om Sondag te onderhou ekonomiese maatreëls en uiteindelik die dood in die Middeleeue tot gevolg gehad het, so sal dieselfde gebeur net voor die sluiting van die genadedeur. Hierdie keer sal die dekreet egter universeel in omvang wees en die hele wêreld sal moet besluit tussen trou aan God of trou aan die mens. Hierna sal daar, volgens Daniël en Johannes, ’n tyd van verdrukking wees soos nog nooit vantevore nie.

Met verwysing na die vernietiging van Jerusalem en die gebeure net voor die tweede koms van Christus, het Jesus gewaarsku oor die gruwel van die verwoesting. Dit waarvan Jesus en Daniël gepraat het, skakel in by wat Johannes die Openbaarder gesien het. Die vernietiging van Jerusalem dien as ’n tipe van wat dwarsdeur die wêreld sal gebeur en as ons ag slaan op die waarskuwings in die Bybel, dan sal God Sy getroue volgelinge beskerm, soos Hy belowe het.

Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdomlaat hy wat lees, oplet. Matthéüs 24:15.

Wat is hierdie “gruwel” wat die verwoesting aanbring? In Lukas 21:20 vind ons die antwoord.

En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Lukas 21:20.

Hierdie parallelle teksvers deel ons mee dat daar na die Romeinse legioene verwys is as die gruwel wat verwoes. Daar is dus na heidense Rome as die gruwel verwys en ons weet dat die Vredevors deur hierdie mag gekruisig is. Boonop het hulle ook die kinders van God vervolg en hulle genadeloos probeer uitwis. Hul godsdiens was ook ’n gruwel. Hulle het nie slegs die keiser aanbid nie, maar hulle het ook in 321 n.C. ’n valse aanbiddingsdag op die wêreld afgedwing. Die Romeine het ’n priesterlike stelsel gevolg waarvolgens priesters bonatuurlike magte uitgeoefen het – dit word ook in die Bybel ’n gruwel genoem.

’n Verdere rede om na Rome te verwys as die gruwel wat die verwoesting aanbring, is die afgodiese aard van hulle godsdiens. Hulle het ’n panteon gode aanbid waaronder die vroulike godin ’n prominente rol gespeel het. Die Romeinse godin Diana, wat die Grieke Artemis genoem het, is aanbid as die hoofgodin in die panteon van Romeinse godinne. 2 Konings 23:13 en Jesaja 44:19 verwys na afgodediens as ’n gruwel.

Aangesien Jesus na twee tydvakke in die geskiedenis van Sy volk verwys, kan die term “gruwel van die verwoesting” nie slegs na heidense Rome verwys nie, maar dit moet ook van toepassing wees op pouslike Rome wat hierdie wandade aan die einde van tyd sal herhaal. Met ander woorde, toe Jesus verwys het na heidense Rome wat God se kinders vervolg en Jerusalem letterlik verwoes het, praat Hy van ’n tipe waarvan pouslike Rome die antitipe is. Pouslike Rome is dus ook ’n gruwelike sisteem, ’n vals godsdiens wat geestelike Jerusalem, God se volk wêreldwyd, vervolg. Soos die keisers van ouds, besit die Pous kerklike sowel as sekulêre magte en die panteon van gode word vervang deur Maria en die heiliges, wat almal by magte is om namens die mensdom in te tree.

Ten einde die antitipiese vervulling van Jesus se profesie in Matthéüs 24 te verstaan, is dit nodig om die tipe, die letterlike vernietiging van Jerusalem toe die Romeinse leër Jerusalem omsingel het, te bestudeer. Die geskiedenis leer ons dat toe Cestius Gallus in Oktober 66 n.C. by Jerusalem opgedaag het, hy ’n gedeelte van die muur vernietig het wat die stad beskerm, maar nadat die Joodse verdedigers na die tempel gevlug het vir veiligheid, het hy skielik sonder enige rede onttrek en na Antiochië teruggekeer, volgens Josephus, die Joodse geskiedskrywer. Sy besluit was egter rampspoedig want die Joodse weerstandsvegters wat die rûens bokant die noordelike bergpas beman het, het daarin geslaag om bykans sesduisend Romeinse soldate dood te maak. Hierdie tussenpose het die Christene wat op die woorde van Jesus ag geslaan het, die geleentheid gebied om uit Jerusalem te vlug.

Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdomlaat hy wat lees, oplet dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Matthéüs 24:15-20 .

Waarom maak Jesus hier melding van die winter en die Sabbat? Alles wat Jesus gesê het, was belangrik en ons kan dus aanneem dat die Sabbat kwessie prominent sal wees aan die einde van tyd. Ons sal ook moet vlug van die komende vervolging deur Rome, die gruwel wat verwoes.

Die Sabbat is die simbool van rus in Jesus se voltooide werk op Golgota en die geskiedenis deel ons mee dat God die gebede van die Christene wat in 70 n.C. in Jerusalem gewoon het, verhoor het. Hulle het in November uit Jerusalem gevlug, net voor die winter en dit was ’n Woensdag. Hulle het ’n kolonie by Pella, suid-oos van die See van Galilea, gestig en nie een van daardie vroeë Christene wat die profetiese woord van Jesus aangeneem het, het gesterf nie. Op dieselfde wyse sal die mense wat leef aan die einde van tyd wanneer die merk van die dier afgekondig word, die geleentheid gegun word om na afgeleë plekke te vlug soos die vroeë Christene in Jerusalem en God belowe beskerming gedurende hierdie tye.

Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Jesaja 26:20.

Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhandna jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. Psalm 91:7-8.

As ons die profesieë ignoreer, sal ons uiteindelik omkom soos die ongehoorsame Jode in die jaar 70 n.C. omgekom het. In die lente van daardie jaar het duisende Jode na Jerusalem gestroom om die Pasga te vier. Skielik was die stad deur die Romeine omring wat hul nederlaag van 66 n.C. kom wreek het. Die inskripsies op die Titus-boog in Rome vertel dat Titus die stad beleër het nadat die Jode binne-in die stad vergader het. Soos die beleëring voortgeduur het, het siektes, vullis en hongersnood hul tol begin eis en te midde van die paniek, het drie bendegroepe tot die afgryse bygedra deur hul mede-Jode te terroriseer deur wreedaardig te kompeteer vir beheer oor die kwynende voorrade. Die geskiedskrywer Josephus het selfs opgeteken dat moeders hul babas geëet het.

Ten spyte van Titus se bevel om die tempel te bewaar, is die pragtige tempelkompleks afgebrand en vernietig soos Jesus voorspel het. Nie een steen is op die ander gelaat nie want, in hul soektog na gesmelte goud, het die Romeinse soldate elke steen omgekeer. Al wat oorbly het van die oorspronklike Jerusalem van Christus se tyd is die Klaagmuur wat deel van die buitehof van die tempel gevorm het.

Tweehonderd en vyftigduisend Jode het in Jerusalem in 70 n.C. omgekom. Nadat die Romeine die stad verower het, het hulle varke op die altaar geoffer uit veragting vir die Jode en hulle het ook heidense Romeinse vaandels daar aanbid. Sewe en negentigduisend mans, vrouens en kinders was gevange geneem en talle ander was as slawe gestuur na Egipte en ander lande. Moses het die gevolge van ongehoorsaamheid voorspel.

Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Deuteronómium 28:15.

En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die HERE jou God jou gegee het. En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die HERE jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak. Deuteronómium 28:52-53.

God het Sy kinders vertel presies watter seëninge hulle sou toekom indien hulle gehoorsaam sou wees en watter vloeke hulle sal tref as hulle ongehoorsaam is. Die keuse was hulle s’n. God se wet was nie bedoel as middel om die ongehoorsames te straf nie, maar die gevolge van ongehoorsaamheid was selftoegedien. God vra nie dat Sy wet onderhou moet word ten einde gered te word nie, maar die wet is gegee om diegene wat teruggekoop is teen onheil te beskerm. Gehoorsaamheid aan die wet van God is ’n uitdrukking van liefde; dit is die wyse waarop ons ’n vriendskap met Hom kan ontwikkel.

As julle My liefhet, bewaar my gebooie. Johannes 14:15.

Wat Jesus vir die vroeë dissipels vertel het, vertel hy ook aan ons. Rome sal weereens God se kinders vervolg en ons moet in die tekens van die tyd sien dat die tweede koms van Jesus nader is as ooit tevore. Wanneer ons die profetiese woord bestudeer, sal ons ontdek waar ons ons tans in die strominge van tyd bevind. Dit is later as wat ons dink. Dit is tyd dat ons wakker skrik uit ons slaap en gereedmaak vir die wederkoms van Jesus.

Die merk van die dier is die laaste toets van gehoorsaamheid. Dit sal bepaal wie ten alle koste getrou sal bly aan die voorskrifte van Jesus en wie onder die vaandel van die Satan sal ressorteer. Die onderhouding van die Sabbat is die grootste teken aan die wêreld dat ons glo dat God ons Skepper en Redder is. Dit is die teken dat ons Sy gesag, en alleenlik Sy gesag, in ons lewens erken in terme van godsdienstige sake. In ons tyd sal enigeen wat die Sabbat onderhou aan bespotting onderworpe wees. Die vraag mag wel gevra word: “Hoe kan ’n mens die sewende-dag Sabbat wat die ses-dag skeppingsweek herdenk, onderhou wanneer die res van die wêreld evolusionêre beginsels onderskryf?” Die vraag kan ook gevra word hoe die hele wêreld verkeerd kan wees, veral gesien in die lig van die wondertekens onder diegene wat Sondag onderhou, en slegs ’n handjievol sogenaamde dwepers reg kan wees. Dit sal moedigheid neem om aan God se kant te staan. Dis nie ‘n kwessie van ’n dag nie. Die kwessie is die erkenning van die algehele heerskappy van God waarvan die dag slegs ’n teken is.

En n derde engel het hulle gevolg en met n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus niehulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang. Openbaring 14:9-11.

VERWYSINGS

  1. Roy Allen Anderson, Unfolding the Revelation, Pacific Press Publishing Association
  2. The Temporal Power of the Vicar of Jesus Christ, p. 27
  3. Decretal, de Translat, Episco, Cap.
  4. Pope Nicholas, Dist. 96 Quoted in Facts for the Times, pp. 55, 56, 1893.
  5. Uittreksel uit ‘n brief geskryf deur die Kansellier van Kardinaal Gibbons; 11         November 1895
  6. The Catholic World, Maart 1894, p. 809
  7. Canon and Tradition, by Holtzman
  8. Catholic Doctrine as defined by the Council of Trent, by Nampon
  9. The Catholic Mirror, 23 September 1893
  10. The Catholic Record, 1 September 1923
  11. A Doctrinal Catechism, Stephen Keenan
  12. Library of Christian Doctrine, pp. 3, 4
  13. Moral Life and Magisterium of the Church, 2032, The Catechism of the Catholic Church
  14. The Catechism of the Catholic Church, 2065, 2066.
  15. Catholic Press (Sydney) 25 Augustus 1900
  16. The Catholic Mirror, 23 September 1893
  17. Albert Smith, Kansellier van die Aartsbisdom van Baltimore, antwoorde namens die            Kardinaal in ’n brief van 10 Februarie, 1920
  18. John Gilmary Shea, in The American Catholic Quarterly Review, Januarie 1883
  19. The Catholic Mirror, 23 Desember 1893
  20. Apostoliese Brief Dies Domini van Pous Johannes Paulus II aan die Biskoppe,            ampsdraers en gelowiges van die Katolieke kerk rakende die onderhouding van die    dag van die Here, (18 Mei 1998)
  21. Ad tuendam fidem, 18 Mei 1998

Leave a Reply