DIE MISTIEKE DODERYK

Een van die mees bedrieglike leerstellings van Babilon is dié van die onsterflikheid van die siel. Hierdie leerstelling, meer as enige ander, het die weg gebaan vir bedrieglike leerstellings aangaande die hiernamaals, en dit het die godsdienstige wêreld deurtrek met valse beloftes en aansprake. Hierdie leerstelling belowe boonop veelvuldige keuses wat ’n mens kan maak in verband met sy redding en veelvuldige geleenthede ten einde gered te word. Spiritisme, reïnkarnasie en nekromansie (die aanbidding en raadpleging van afgestorwenes) is slegs moontlik in die lig van hierdie leerstelling. Die Woord van God is baie duidelik rakende hierdie kwessie. Geeneen van hierdie leerstellings of praktyke moes deur God se kinders geduld word nie, omdat hule almal geanker is in ’n valse begrip van die dood.

Die teenoorgestelde van die lewe is die dood. Die studie van die lewe is een van die groot temas van moderne wetenskaplike strewe. Wetenskaplikes kan die prosesse van die lewe beskryf, maar is nie by magte om die oorsprong daarvan vas te stel of dupliseer nie. Definisies van die lewe sluit in die funksies van lewende organismes, maar dit kan nie akkuraat beskryf word anders as in negatiewe terme soos bv. ‘n “toestand van nie-dood.” Net so het die term “dood” soortgelyke beperkinge en dooie voorwerpe of organismes kan slegs beskryf word as “nie-lewend.” Die oorsprong van die lewe en die dood bly egter ’n raaisel en wetenskaplikes kom slegs met spekulatiewe antwoorde vorendag. Die Skrif inteendeel, kom met duidelike, onomstootlike antwoorde, nie slegs rakende die oorsprong van die lewe nie, maar ook wat die oorsprong en die toestand van die dood betref.

Volgens die skeppingsverhaal het die mens die gawe van die lewe van God ontvang:

En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens n lewende siel geword. Génesis 2:7. (Klem bygevoeg.)

God het dus die mens uit die stof van die aarde geformeer en daarna het Hy die asem van die lewe in sy neus geblaas. Hierdie eenheid het toe ’n lewende siel geword.

Die Hebreeuse woord vir asem” in Génesis 2:7 is neshamah of die lewe-gewende beginsel. Die asem is gelykstaande aan die lewe self (Jesaja 2:22). ’n Ander Hebreeuse woord wat 28 keer as asem vertaal is, is rûach wat ook “wind,” “temperament,” of “Gees” kan beteken. Dit is 237 maal as “Gees” vertaal. In Génesis 2:7 is dit die asem van die lewe wat van God afkomstig is wat aan die lewelose stof die lewe gee en dit in ’n lewende siel omskep. Die Hebreeuse woord vir “siel” is nephesh en beide die terme rûach en nephesh is meermale verkeerdelik toegepas ten einde doktrinale posisies te regverdig wat nie-Skriftelik is nie. Beide die begrippe van siel en gees word gebruik om geestelike entiteite te omskryf wat onafhanklik van die liggaam kan voortbestaan. Die meeste godsdienste in die wêreld verkondig inderdaad dat die dood slegs ’n oorgang is van die een bewustelike toestand na die volgende. Hulle stel voor dat die fisiese mens wel onderworpe is aan die dood, maar dat die “siel” aanhou lewe en dat dit inderdaad onsterflik is. Volgens hierdie leerstelling is die siel ’n aparte entiteit en dit woon in die liggaam van die lewende mens. Om die kwessie meer verwarrend te maak, glo die meeste Christelike genootskappe dat hierdie tweeledigheid slegs in mense voorkom, en dat diere nie siele het nie.

Die teks van Génesis 2:7 stel dit duidelik dat God in die mens wat Hy gevorm het die “asem van die lewe” ingeblaas het en die mens ’n lewende siel geword het. Hy het nie ’n siel ontvang nie; hy het een geword. Die Afrikaanse Nuwe Vertaling van die Bybel sê dat  “die mens ’n lewende wese geword het.” Van die 1700 verwysings na siel en gees in die Bybel word nie eenmaal daarna verwys as onsterflik, onverganklik of ewig nie. Slegs God besit onsterflikheid (1 Timótheüs 1:17; 6:16). Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel is ’n leerstelling van valse hoop wat die boodskap van die dood ignoreer. Meer nog, indien die mens aanhou lewe, al is dit in ’n veranderde toestand, dan is daar geen behoefte aan ’n Verlosser of inderdaad die versoenende dood van Christus nie. Christus het gesterf om die lewe terug te gee aan diegene wat dit deur die sonde verloor het. Job korreleer die gebruik van asem en gees en sê:

want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus. Job 27:3.

Moses sê dat die asem van die lewe in Adam se neus was, terwyl Job na beide terme verwys en sê, die “lewensasem” (rûach) van God “is in my neus.” Gevolglik word die Hebreeuse woorde neshamah en rûach hier in ‘n soortgelyke konteks gebruik – naamlik vir die lewe self! Volgens die Skrif het alle lewende wesens op dieselfde wyse lewe van God ontvang en is almal aan dieselfde lot onderworpe.

En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel… al die vlees waar n lewensgees in was. Génesis 2:19; 7:15.

Beide die mens sowel as die diere:

het dieselfde asem, en n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie. Prediker 3:19.

Aangesien die mens en die dier dieselfde asem het, sterf hulle op dieselfde wyse.

Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: … soos die een sterwe, so sterwe die ander. Prediker 3:19.

Beide die mens en die diere is uit die stof van die aarde gevorm. Hulle keer dus terug na stof wanneer hulle sterf; presies die teenoorgestelde van hul skepping.

Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Génesis 3:19.

Die tweede ding wat met die afsterwe van die mens gebeur, is dat die gees of lewensasem na God terugkeer:

en die gees (sal) na God terugkeer wat dit gegee het. Prediker 12:7.

Die mens was nooit bedoel om te sterf nie, maar die dood het as gevolg van sonde ingetree.

Want die loon van die sonde is die dood.  Romeine 6:23.

As die dood “nie-lewe” is nie, beteken dit bloot dat God die lewe (“rûach,” gees, asem) wat Hy vergun het op voorwaarde van gehoorsaamheid, teruggeneem het en die mens se bestaan kom tot ‘n einde as gevolg daarvan. Dit is die lewe wat God gegee het wat na Hom toe terugkeer en nie ’n veranderde weergawe van die mens in die vorm van ’n gees nie. Toe God gesê het dat die mens “sal sekerlik sterwe” (Génesis 2:17) indien hy God se opdragte oortree, het Hy bedoel dat die mens sal ophou om te lewe en dat hy tot stof sal terugkeer. In teenstelling met ’n bewustelike staat, is die dood die finale staat van “nie-wees” of onbewustelikheid en dit word so in die Skrif beskryf.

Sy gees gaan uit, hy keer terug na die aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Psalm 146:4.

Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie. Prediker 9:5.

Die dode is onbewus van wat op die aarde aangaan – hulle weet niks nie. Die volgende teksverse sê:

Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn. Prediker 9:6.

Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk? Psalm 6:6.

Ook hul gevoelens gaan tot niet:

Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie. Psalm 115:17.

Die toestand van onbewustelikheid word as ’n slaap beskryf. Job sê:

so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie. Job 14:12. (Klem bygevoeg.)

Die mens lê in die stof van die aarde tot die opstanding aan die einde van tyd. Dan, en slegs dan, word hy opgewek en uit sy slaap wakker gemaak. Dawid vra die Here dat hy nie “in die dood inslaap nie.” (Psalm 13:4)

Die Opwekking van Lasarus

Hierdie punt word verder geïllustreer in die verhaal van die opwekking van Lasarus. Terwyl Hy met Sy dissipels gesels aangaande Lasarus, sê Jesus:

Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle duidelik: Lasarus is dood. Johannes 11:11-14 .

Die dissipels was verward en het gedink dat Christus die natuurlike slaap bedoel het, maar Hy het die slaap van die dood bedoel. Vers 17 van dieselfde hoofstuk sê:

   Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was.

Terwyl Hy met Martha praat, poog Hy om haar te troos deur te sê:

Jou broer sal opstaan. Martha antwoord Hom: Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag. Johannes 11:23-24.

Martha het geweet dat Lasarus slegs met die opstandingsdag in die lewe teruggeroep sou word. Jesus het deur die opwekking van Lasarus gedemonstreer dat Hy die Een is wat die dode kon opwek volgens Sy stelling:

Ek is die opstanding en die lewe. Johannes 11:25.

Die Skrif in beide die Ou en Nuwe Testament is baie duidelik rakende hierdie kwessie. Die dode sal in die lewe teruggeroep word op die laaste dag (1 Korinthiërs 15:51-55; Job 19:25-26; Job 14:10-15; Psalm 17:15; Daniël 12:13). Daar sal aparte opstandings wees vir die regverdiges en die goddeloses.  Johannes 5:28-29 sê:

Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Want die Here self sal van die hemel neerdaal met n geroep, met die stem van n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 1 Thessalonicense 4:16.

En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Openbaring 20:5.

Dieselfde stem wat vir Lasarus uit die graf geroep het, sal op die laaste dag van die aarde se geskiedenis gehoor word, wanneer Hy die dode roep uit hul slaap in die grafte van die aarde. Christus sal die regverdige dode, of “die wat in Christus gesterf het,” herskep en in hulle die asem van die ewige lewe inblaas en hulle sal die hemel binnegaan. Openbaring 20:6:

Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding.

Die goddelose dode bly in die stof van die aarde om ná die Millennium, in die opstanding van die goddeloses, opgewek te word. (Sien Die Langverwagte Millennium van Vrede en Die Komende Klimaks der Eeue.) Toe Jesus vir Lasarus uit die graf geroep het,

   het Hy met n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! Johannes 11:43.

Hierdie stem het die dooie Lasarus uit die dood opgewek. En die oorledene het uitgekom en Jesus sê vir hulle:

Maak hom los en laat hom gaan. Johannes 11:44.

Hoegenaamd niks word vermeld wat gedurende daardie vier dae wat Lasarus in die graf was, gebeur het nie. Christus lewer geen kommentaar nie en so ook nie Martha en Lasarus self nie. Die feit was natuurlik dat daar niks was waarop kommentaar gelewer kon word aangaande wat gebeur het nadat hy gesterf het nie, of aangaande die doderyk nie, bloot omdat hy die slaap van die dood ondervind het wat ’n toestand van algehele stilte en vergetelheid is.

Spiritisme

Indien die dode in ’n toestand van onbewustelikheid of slaap is en die opstanding afwag, hoe verduidelik ’n mens die klaarblyklike kommunikasie met die dode wat so algemeen is in moderne godsdiens-bewegings van vandag en die verlede? Die aanbidding van die voorvaders is algemeen in baie kulture, veral in die Afrika-kulture. Die New Age-beweging beweer dat hulle kommunikeer met geesteswesens. In Bybelse tye, is daar die verhaal van Koning Saul, wie die heks van Endor geraadpleeg het en veronderstel was om met Samuel, wat al geruime tyd oorlede was, te kommunikeer. Hierdie kwessies moet opgeklaar word.

Eerstens moet gevra word of die dode met die lewendes kan kommunikeer en of hulle na hul huise kan terugkeer om daar te spook. Ons het in die vorige gedeelte gesien dat die dode niks weet nie (Prediker 9:5) en dat met die intree van die dood “sy planne gedaan” is (Psalm 146:4). Job gee die versekering:

Die wolk verdwyn en gaan heenso kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie. Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie. Job 7:9-10.

Hy sê voorts:

Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie. Job 14:21.

Salomo skryf aangaande die dode:

Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. Prediker 9:6.

God het die raadpleging van spiritiste en kommunikasie met die dode verbied en die doodstraf bepaal vir diegene wie hierdie gebod oortree (Exodus 22:18; Levitikus 19:31; 20:6, 27; Deut. 18:9-14; 2 Konings 21:6; 23:24; Jeremia 27:9-10). God het die riglyne vir kommunikasie met Hom duidelik uitgespel. Hy kommunikeer deur middel van Sy Woord en deur Sy profete.

Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle n volk wat geen dageraad het nie. Jesaja 8:20.

Die Skrif (die wet) is die geïnspireerde Woord van God (2 Petrus 1:20-21; 2 Timótheüs 3:16; Johannes 10:35; Matthéüs 24:35; Lukas 24:44; Psalm 119:89, 100-101) en die getuienis is die gees van profesie (Openbaring 19:10).

As die geeste wat die spiritiste of mediums oproep nie die geeste van die dode is nie, dan moet hulle geeste van demone wees wat die mens mislei en hom van sy verlossing beroof. God maan deur Sy profeet Jesaja:

En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompelmoet n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Jesaja 8:19.

Saul se Ontmoeting met Samuel

’n Gedeelte in die Bybel wat dikwels gebruik word om kommunikasie met die dode te ondersteun, is 1 Samuel 28:3-25, waarvolgens Saul die heks van Endor raadpleeg wat kwansuis vir Samuel oproep om die koning van raad te bedien. Die koning was self deur geeste gepla en het deur sy eie optrede die konneksie met God verbreek (vers 15). Saul het egter onthou dat al Samuel se voorspellings met betrekking tot sy  lewe vervul is. In sy toestand van paniek het hy gevra dat Samuel hom moet raad gee. In vers 14 vra hy die medium “Hoe is sy voorkoms?” wat aandui dat hy nie self vir Samuel gesien het nie. Die gees het ook vir Saul getart deur vir hom te sê dat sy kroon aan sy mededinger gegee sou word. Die boodskappe van die gees het nie visioenêre vermoëns geverg nie. Dawid was alreeds gesalf en Israel het hulle nie voor die HERE verootmoedig nie, wat dit meer waarskynlik gemaak het dat hulle deur die Filistyne oorwin sou word. Aangesien die dode geen bewustheid het nie, is dit duidelik dat die gees van Samuel nie met Saul gekommunikeer het nie. Volgens die Skrif kan die Satan met die mens kommunikeer en homself as ’n engel van die lig voordoen (Matthéüs 4:1-11; 2 Korinthiërs 11:14).

Hedendaagse Spiritisme

Telkens as God kragtig gewerk het om die mensdom na Hom terug te roep, het Satan die boodskap nagemaak met wonderwerkende krag.

Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die gelowe afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang. 1 Timótheüs 4:1.

Die hedendaagse manifestasies van spiritisme het in 1848 begin met die Fox susters toe hulle ’n geheimsinnige geklop in die huis van ’n boer genaamd Fox in Hydesville, New York ondervind het. Vanuit hierdie nederige begin het spiritisme gegroei tot ’n wêreldwye beweging met sy moderne dryfkrag gesetel in die New Age-beweging.

Selfs die vroeë spiritistiese leiers het erken dat hul kommunikasie met Satan self was. In Spritten, ’n Noorweegse spiritisme blad, word die volgende stelling gemaak:

Spiritisme is die slang in die Paradys wat aan die mensdom die geleentheid bied om te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad. 1

Moses Hull, ’n vooraanstaande spiritisme dosent uit daardie vroeë dae, maak die volgende stelling:

n Waarheidliewende Slang… In antwoord op die vraag, “Vir wie moet ons dan glo God of Satan?” antwoord ek, “Die feite is dat in elke Bybelse geval word ons geloof in Satan geregverdig; hy was altyd betroubaar en dis meer as wat van die ander een gesê kan word… Dit was nie die duiwel nie, maar God wat die fout in die Tuin van Eden gemaak het… Dit was God en nie die duiwel nie, wie die moordenaar van die begin af was.” 2

Hierdie Godslasterlike stelling openbaar die ware aard van spiritisme.

Die Leerstelling van die Hel en die Vagevuur

Die leerstellings van die hel en die vagevuur is van paganistiese afkoms en is deur die Rooms-Katolieke kerkvaders in die Christelike geloof ingevoer. Kardinaal Gibbons skryf aangaande die vagevuur:

Daar bestaan in die volgende lewe n staat van tydelike straf toebedeel aan diegene wat nie God se geregtigheid bevredig het vir sondes wat reeds vergewe is nie. Die bestaan van die vagevuur impliseer natuurlik ook die gepaardgaande dogma, naamlik om vir die dode te bid. 3

Hel word in die algemeen gedefinieer as ’n plek of toestand waar diegene wat in vyandskap tot God gesterf het, ewige pyniging ondergaan, terwyl die siele van die regverdiges met hul dood hemel toe gaan.

Die Hebreeuse woord “sheol” en die Griekse ”Hades” word beide as “hel” vertaal en verwys na die wêreld van die dode. Die Griekse woord “geenna” dui op ’n hel van straf deur branding. Die Bybelse terminologie word dikwels in ’n metaforiese sin gebruik en verwarring kan ontstaan rakende of ’n term verwys na ’n plek of ‘n toestand waarin die dode hulself bevind.

Die Griekse woord geenna” word 12 keer in die Nuwe Testament gebruik en is afgelei van die Hebreeuse woord Ge Hinnom” die “Vallei van Hinnom” waar heidense rituele van offerandes en die verbranding van kinders vir Moloch beoefen was. Jeremia noem hierdie vallei “Moorddal.” Die Vallei van Hinnom of Gehenna het ’n plek geword vir die verbranding van vullis en met die ontwikkeling van die doktrine van ’n brandende hel waar die bose gestraf word, het die vallei gedien as ’n tipe van die vure van die laaste dae.

In die Bergpredikasie verwys Jesus drie maal na geena.” Hy waarsku die Fariseërs van die verdoemenis of geena.” Die aard en die uitwerking van die vuur word in die Bybel beskryf as die “onuitbluslike vuur” (Markus 9:43-48; Lukas 3:17) of die “ewige vuur” (Matthéüs 25:41). Hierdie vuur reinig die aarde (2 Petrus 3:10-12; Lukas 3:17) na die tweede opstanding (Openbaring 20:5).

Die woord “ewige” (“aiónios”) word gebruik om die lot van die regverdiges sowel as die bose te beskryf. As die loon van die sonde die dood is (Romeine 6:23), dan is die straf van die goddeloses die ewige dood. Die finale uitwerking van die vuur is ewigdurend, maar nie die vuur self nie. Hierdie beginsel word duidelik gedemonstreer in die gebruik van die konsep “ewigdurend” in die Skrif. Jeremia profeteer dat God ’n vuur in Jerusalem sal aansteek wat “nie uitgeblus sal word nie.” Toe Nebukadnésar Jerusalem vernietig het, was die stad tot op die grond toe afgebrand en die vuur kon nie geblus word nie totdat dit die stad vernietig het; tog brand daardie vuur nie meer vandag nie. Soortgelyk lees ons in Judas 1:7:

soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Daar word ook na die kwessie verwys in 2 Petrus 2:5-6. Die vure brand lankal nie meer nie, maar die gevolge van die vure is ewigdurend.

Die leerstelling dat die goddelose dode vir ewig en ewig gepynig word, is afstootlik en teenstrydig met die karakter van God wie oneindige liefde vir die gevalle mensdom gedemonstreer het met die offer van Sy Seun. Paganistiese sienings het die Joodse geleerdes beïnvloed in hul denke rakende die hiernamaals. Josephus het geglo dat die dode óf hemel óf hel toe gaan terwyl hulle die opstanding afwag. Die regverdiges is ’n plek aangewys wat die “boesem van Abraham” genoem is terwyl die goddeloses deur ’n diep afgrond van hulle geskei is en ingeperk was tot ’n plek waar hulle die vure van die hel kon hoor en sien. Hierdie sienings is teenstrydig met die duidelike leringe van die Skrif dat “die dooies weet glad niks nie.” (Prediker 9:5)

Net so hang hedendaagse Christelike geleerdes die doktrine aan van ‘n onmiddellike hiernamaals óf in die hemel óf in die hel, en as bewys daarvoor haal hulle ‘n aantal Bybeltekste aan, in besonder Jesus se belofte aan die dief aan die kruis en die gelykenis van die ryk man en Lasarus, wat met hulle dood onderskeidelik na die hel en “Abraham se boesem” gegaan het. Hierdie tekste moet verduidelik word indien hul leringe in ooreenstemming moet wees met wat die res van die Bybel sê rakend die toestand van die dode.

Nêrens in die Skrif is daar ’n doktrinale lering van ’n onmiddellike hiernamaals nie. Die Lasarus wat Jesus uit die dood opgewek het, het beslis nie hemel toe of na “Abraham se boesem” gegaan met sy afsterwe nie. Die Nuwe Testamentiese lering hieromtrent is duidelik. Tydens Pinkster sê Petrus:

Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe… Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie. Handelinge 2:29, 34. (Klem bygevoeg.)

Die Dief aan die Kruis

Het die dief aan die kruis nie hemel toe gegaan met sy dood nie? Hy het Christus as volg aangespreek:

   Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. Lukas 23:42.

Hy het uitgesien na ’n toekomstige gebeurtenis en gevra dat aan hom gedink moet word in die dag van finale afrekening. Hy het uitgesien na die wederkoms. Matthéüs 16:28 verwys na Christus wat “in Sy koninkryk” sal kom en in Johannes 14:3 sê Christus self “Ek (kom) weer.” Jesus se antwoord aan die dief aan die kruis was:

Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. Lukas 23:43.

Was die dief “vandag” op Vrydagmiddag of -aand saam met Christus in die hemel? Die antwoord is nee, aangesien Christus self teen daardie tyd nog nie eens opgevaar het hemel toe nie, soos Hy op die Sondagoggend getuig het:

Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie. Johannes 20:17.

As Christus teen die Sondagoggend (opstandingsmôre) nog nie opgevaar het hemel toe nie, dan het die dief ook nie.

Die rede vir hierdie verwarring moet gesoek word in die feit dat die oorspronklike Nuwe Testament in Griekse skrif was waar die woorde inmekaar gevloei het sonder spasies of punte of verse soos ons dit nou het. Dit was eers na 1557 dat vers-indelings tot die Bybelse geskrifte ingevoeg is. Die korrekte plasing van die komma in Lukas 23:43 is belangrik ten einde die teksvers te verstaan. Indien die komma na die woord “vandag” geplaas word, lees die teks as volg:

   Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees.

Daar heers dan harmonie tussen hierdie teksvers en die verklaring in Johannes 20:17 dat Jesus nog nie opgevaar het hemel toe nie. Die dief het bloot die belofte ontvang op die dag toe hy gekruisig is dat hy wel in die hemel sal wees wanneer die Here Sy koninkryk vestig.

Verskeie Bybels plaas die komma in hierdie posisie om die regte perspektief daaraan te verleen. Hulle is die Lamson Version, die Emphasized Bible, (deur Joseph B. Rotheram van die dissipels van Christus), en die New World Translation of the Christian Greek Scriptures (Jehovahsgetuies). Die Methodiste kommentaar deur Adam Clarke bespreek ook die verkeerde posisie van die komma.

Lasarus en die Hel (Lukas 16:1931)

Die standpunt word dikwels ingeneem dat Jesus se lering in hierdie tekste letterlik opgeneem moet word. Die taalgebruik en die agtergrond daarvan is egter hoogs figuurlik en die verhaal moet as ’n gelykenis beskou word. Feitlik elke toneel in die verhaal weerspreek die leringe van die Skrif en die gelykenis is derhalwe bedoel om geestelike waarhede oor te dra aan die leiers van Israel. Die Joodse volk was deur God begunstig as die bewaarders van Sy waarheid. Hulle moes dien as ‘n lig aan die heidene, en moes die heiden-nasies lei na die enigste Bron van lewende waters. Om hierdie rede is hulle geplaas op die kruispad tussen die groot nasies en die handelsroetes van daardie tyd. In plaas daarvan dat hulle hul missie vervul, het hulle onverdraagsaam en selfgesentreerd geword en aanspraak gemaak op redding alleenlik vir hulself. Terwyl hulle trots op hul eksklusiwiteit was, het hulle nietemin van die heidense leringe rakende die hiernamaals aangeneem, maar altyd met die voorbehoud dat hul status hulle kwalifiseer vir die hemel. Jesus het die huigelary van hierdie sienings tereggewys, en in die verhaal van die ryk man en Lasarus breek Hy weg van die tradisie van hierdie wêreldbeskouing.

In die gelykenis verteenwoordig die ryk man die Joodse volk wat ryk was aan geestelike waarhede en die arm man verteenwoordig die heidene. Die ryk man was “beklee” met kennis van die Koning van die konings (purper is die koninklike kleur) (Lukas 16:19), en met die vermoë om geregtigheid te bekom (wit linne – Openbaring 19:8). Die heiden was oortrek met swere wat sonde verteenwoordig (Jesaja 1:6), maar geen oplossing is hom gebied vir sy toestand nie. In werklikheid was selfs die krummels wat van die geestelike tafel van die ryk man afgeval het, hom verbied. Jesus het weggebreek van die tradisie van hierdie Joodse denke in sy omgang met die Kananése vrou (Matthéüs 15:21-28) wat ook gevra het vir die krummels van die tafel van (die) base.” In hierdie ontmoeting word honde ook gemeld en dit dien as ’n verdere tipe van die heidene of diegene wie nie deur God begunstig word nie. Selfs Jesus se dissipels het Hom versoek om die vrou weg te stuur en daardeur het hulle getoon in welke mate die leringe van die Skrifgeleerdes hulle oordeel beïnvloed het.

Soos die gelykenis ontvou, gooi Jesus die siening van die Joodse leiers omver deur die ryk man in die hel” te plaas en die arm man in die “boesem van Abraham.” Die hele hoofstuk 23 van Matthéüs betreur die bekrompe sienings van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs en voorsien die antwoorde waarom die toestand van die ryk man en Lasarus omgeruil skyn te wees. Jesus laat die les by Sy dissipels inslaan dat die status van ’n persoon nie ’n waarborg van verlossing is nie. Die pad word dus vir die dissipels voorberei om van die tradisies weg te breek en die evangelie kragtig aan die Jode sowel as die heidene te preek. Selfsug het aan die wortel van die Joodse oortuigings gelê, maar God vereis dat eiewaan afgelê moet word en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Die vertroue op herkoms is die volgende punt wat in die gelykenis aangespreek word. Die Jode het daarop aanspraak gemaak dat Abraham hul vader is (Johannes 8:39), maar in die gelykenis kon “Vader Abraham“ die ryk man nie help nie. Die Nuwe Testament verklaar dat diegene wie in Jesus is, Abraham se saad is (Galásiërs 3:29) en Christus het gekom om die gewondes en gebroke van hart te genees. Slegs diegene wat hulle geestelike armoedigheid en hul afhanklikheid van Christus besef, kan Christus se seëninge deelagtig word. In die Saligsprekinge (Matthéüs 5:1-12) is dit die armes van gees, dié wat treur, wat sagmoedig is, wat ’n honger en dors na geregtigheid het, wat gevul kan word en genade kan ontvang. Met ander woorde, ’n mens moet jou eie geestelike armoede erken, berou hê oor jou sonde en ’n verandering van karakter ondergaan met ’n verlange na die geregtigheid van Christus, om gevul te word.

Leringe wat op tradisie gebou is, word volgende deur Jesus aangespreek. In Matthéüs 15:1-9, waarsku Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs dat hulle die woord van God van nul en gener waarde maak deur hul tradisies. In die gelykenis van die ryk man en Lasarus is daar geen geleentheid vir ’n tweede kans na die dood nie. ’n Groot kloof word gevestig, en die ryk man se versoek dat sy broers gewaarsku moet word, word afgekeur. Die rede wat gegee is, is dat hulle Moses en die profete, of die Woord van God tot hul beskikking het. Indien ons nie die leringe van die Skrif aanvaar nie, dan sal selfs ’n boodskap vanuit die doderyk nutteloos vir ons redding wees.

Elke toneel, soos dit in die gelykenis ontvou, dra ’n geestelike waarheid oor in teenstelling met die geestesingesteldheid van die Joodse leiers. Die hedendaagse neiging om die gelykenis as letterlik te beskou ten einde die doktrine van die hel te ondersteun, doen afbreuk aan die doel van die verhaal en maak die pragtige boodskap daarin vervat tot niet.

Volgens die Bybel is die dood dus ’n toestand van onbewustelike slaap. Dit beteken egter nie dat daar nie wel ’n rekord in die hemel bestaan van die slapende heiliges nie. God het ’n volmaakte rekord van ons wese, ons eie natuur, en wanneer Hy die slapende heiliges oproep, sal hulle opstaan met onverganklike liggame en met die karakters wat hulle onder leiding van Sy heiligmakende krag ontwikkel het. Die Bybelse rekord van die dood is ver van verontrustend; inteendeel, dit is gerusstellend. Ons voorvaders hou nie ons elke fout dop nie en hulle voel nie die pyn van ons verkeerde keuses nie. Hulle is salig onbewus van die ontplooiing van gebeure terwyl hulle slaap tot die opstandingsdag. As ons deur hierdie Bybelse waarhede versterk word, dan sal die verleidende mag van valse wonderwerke en spookgestaltes geen houvas op ons hê nie en ons sal dan beter voorbereid wees om in die laaste dae staande te bly.

VERWYSINGS

  1. Spritten, 15 Desember 1889, p. 2
  2. Facts of Faith, SPA, p. 208
  3. Faith of Our Fathers, p. 247, 248

Leave a Reply